Die kosmandjie was deel van treinry gepak met tuisgemaakte kos en lekkernye. Ons het gewoonlik van Kaapstad stasie af vertrek vir ons Julie trein vakansie wanneer die skole gesluit het.
Dit neem 2 dae met die trein om van die Kaap tot in Pretoria te ry
Aangesien my Pa op die Spoorweg gewerk het as treindrywer het ons familie Vrypas gekry. Dit was die lekkerste vakansies ooit! Ons het op die trein geklim met ons eie beddegoed opgerol en vasgemaak met ’n leer belt en ’n groot kosmandjie met genoeg kos om ons deur die grootste gedeelte van die 2 dae reis te neem.
In die kosmandjie was ’n warmwater bottel wat ons gereeld in die eetsalon vol kookwater laat maak het
Daar was ’n heel hoender – gaar en opgesny, brood, botter, marmite. ’n Dosyn hardgekookte eiers, sout, peper en tamatiesous. Wors en frikadelle, tamaties. Ma het ook ’n piepklein gasbottel saamgery wat dikwels handig te pas gekom het wanneer die trein langs die pad gebreek het. In die kosmandjie was ook geblikte boeliebief, spaghetti met tamatiesous en sardientjies. Vars vrugte – meestal appels en piesangs.
Ons was ordentlik ingerig vir die lang reis
Sodra die trein uit die stasie gery het en op sy fluit geblaas het, het ons die kosmandjie bygedam. Ma moes net keer. “Die hoender is vir vanaand vir aandete – eet solank ’n eier en sny brood”. Daar was ook aanmaak koeldrank in die mandjie en natuurlik koffie, tee, borde, teelepels en messe en vurke. ’n Klein botteltjie met skottelgoedseep, kombuis vadoek en afdroogdoeke.
Teen die 2de aand op die trein was meeste van die kosmandjie se inhoud reeds gedaan
Dan het ons iets van die kombuis afbestel. Vir aandete iets warm vir die koue winteraande – tamatiebredie, kerrie-en-rys. Die volgende oggend het ons koffie en ’n broodjie bestel – gerooster met anchovy of marmite en hard gekookte eiers. Dit was Koningskos met die trein ons Paleis.
Die kosmandjie was deel van treinry
Reis saam met Amanda en herleef die nostalgie van treinry en onthou kos. Ontdek ook saam met Amanda nuwe geure en smake en tuisgemaakte fynproewer etes.
Reis verder
- Maak ’n draai in die Eetsalon vir nog resepte
- Besoek stories – trein, kos, kombuis en reis stories
- Besoek ook Amanda Skrywer waar Amanda haar opinie gee oor aktuele sake
- Teetyd kuiers is ’n kuier rubriek waar ons lekker gesels
- Die Naguil koerant verskyn maandeliks gratis en is ontspannende leesstof