Eenvoudige ontbyt met skop

Weeksdae eet ek meestal ’n eenvoudige ontbyt met skop. Dis iets wat ek by my Ma geleer het. Sy eet soggens ’n ligte tog voedsame ontbyt wat hou tot teetyd. So hier is my baie eenvoudige ontbyt.

eenvoudige ontbyt

Jy het nodig

  • 1 vrug van jou keuse – vir my werk ’n appel of piesang die beste
    (’n Appel ’n dag hou die Dokter op sy plek)
  • 2 eetlepels hawermout (oats)
  • Knypie sout
  • Bietjie melk
  • Mikrogolf pot om die hawermout in gaar te maak.
  • Rooibostee
  • Heuning
eenvoudige ontbyt met skop

So maak mens

  • Tee – Kook die ketel terwyl jy gou jou bed opmaak. Sit ’n rooibostee sakkie in die koppie en gooi die kookwater bo-op. Laat trek terwyl jy die hawermout maak.
  • Hawermout – Gooi 2 eetlepels hawermout in die mikrogolf kastrol. Gooi ongeveer 60 ml oor die hawermout. Mikrogolf vir 1.30 minute op hoog.

    Nou moet jy kophou soos ’n dronk weeluis.

    Staan by die mikrogolf want hawermout hou van oorkook. Sodra die hawermout by die bokant van die potjie kom, moet jy die deur van die mikrogolf oopmaak en die mengsel ’n roer of twee gee. Jy sal dit so 2-3 keer moet doen voor die tyd verstreke is.

    Daarna haal jy die potjie uit die mikrogolf en gooi so 2 eetlepels melk by en ook ’n paar korrels sout. Sit terug in die mikrogolf vir nog 10 sekondes. Gooi dit in die ramekin bakkie en gooi bietjie heuning of bruinsuiker oor.

Dien dit op

Maak van elke ete ’n geleentheid al is jou ete ook eenvoudig. Moenie loop en eet nie. Dek ’n tafel of ’n skinkbord. Drink jou tee uit ’n mooi koppie en piering en eet uit ’n mooi bord of bakkie. Die hawermout eet ek uit ’n ramekin bakkie. Dis net groot genoeg vir die ontbyt porsie en lyk mooi.

Die koppie en piering het ek by Checkers gekoop. Is dit nie te mooi nie? Mens se dag begin sommer op ’n vrolike noot. Die rooi mikrogolf potjie is ook by die mint groen winkel gekoop.

Lekker eet

Met ’n smaaklike voedsame eenvoudige ontbyt begin mens jou dag reg. Lekker eet.

Reis verder

  • Maak ’n draai in die Eetsalon vir nog resepte: voorgereg, ontbyt, hoofgereg, nagereg
  • Maak jouself verder tuis in Amanda Skrywer se Dis net my opinie se sitkamer

Leave a Reply/Los 'n boodskap