Kaal kaperjolle op die trein

Kaal kaperjolle op die trein na Pretoria. Ek was 15 jaar oud toe ons op ons jaarlikse Junie/Julie skoolvakansie per trein gaan vakansie hou het. Ons sou van Oudtshoorn Kaap toe ry, een nag oorslaap by ’n vriendin van my Ma en dan van Kaapstad stasie  reis na Pretoria.

Die treinrit na Pretoria het 3 dae en 2 nagte lank geduur en dit was ’n gunsteling deel van ons vakansie. Oorslaap op die trein! Die eerste nag het rustig verloop met ons wat ure in die gang staan en uitkyk by die vensters tot laataand. Deur die nag het daar ’n familie opgeklim en aan die einde van die gang ’n kompartement binnegegaan.

Kaal kaperjolle op die trein

Daar was niks snaaks aan hulle nie. Pa, Ma, boetie en twee sussies. Min het ons geweet.

Die volgende oggend was die familie netjies aangetrek en reg vir ontbyt in die eetsalon. Die Pa het selfs ’n pak klere met ’n das aangehad.
Dit was ’n Sondagoggend. Die res van die dag het heel vreedsaam verloop tot so 7 uur die aand toe ’n hewige woordewisseling uit die kompartement gehoor kon word.  Niemand het hulle vreeslik daaraan gesteur nie – seker maar net ’n onderonsie het ons gedink. Dit het inderdaad rustiger geword en ons het begin regmaak vir die nag.

Kaal kaperjolle op die trein

Elf uur die nag het dit geklink of iemand vermoor word. Die kompartement deure het oopgegaan en verdwaasde passasiers – ons ingesluit het met groot oë die petalje gade geslaan. Buitekant die familie se kompartement het die Ma op haar tas gesit – poedelnakend kaal. Die Pa en die kinders het hulleself in die kompartement toegesluit. Die Ma het haarself met haar hande probeer bedek – skaam en vernederd.

Na ‘n ruk het die kondukteur daar aangekom en die vrou met ’n kombers bedek en geëis dat die Pa die deur moet oopmaak. Na ’n lang gesukkel het die Pa die deur oopgeruk en gebulder: “Ja, wat wil jy hê? Hy was duidelik papdronk. Die kinders is saam met die Ma na ’n oop kompartement geneem. By die volgende stasie het die Spoorweg Polisie op die trein geklim en die Pa geboei en van die trein verwyder. Die Ma en kinders is ook onder Polisie begeleiding met bagasie en al van die trein verwyder.

Passasiers op die trein was nou wakker en almal het gewonder wat gaan aan

Dit was eers die volgende oggend wat ons gehoor het dat die Pa onder die invloed van drank was toe hy die Ma beskuldig het dat sy ogies gemaak het vir die kelner. Hy het haar gedwing om haar klere uit te trek en haar uitgesluit. Die Pa was ’n Skoolhoof van beroep. Ek wonder steeds wat het van die familie geword? Het sy hom geskei? Het hy die drankduiwel oorwin?

Reis verder

  • Maak ’n draai in die Eetsalon vir nog resepte
  • Besoek stories – trein, kos, kombuis en reis stories
  • Besoek ook Amanda Skrywer waar Amanda haar opinie gee oor aktuele sake
  • Teetyd kuiers is ’n kuier rubriek waar ons lekker gesels
  • Die Naguil koerant verskyn maandeliks gratis en is ontspannende leesstof

Leave a Reply/Los 'n boodskap