Kersfees bak en brou

kersfees bak en brou

Kersfees bak en brou is my gunsteling tyd van die jaar. Dis wanneer ek my koekblikke vol maak met tuisgebakte koekies. Met 2 alewig honger kleinkinders kan dit ook nie anders nie. Goeie kwaliteit winkel koekies is duur en daar is nie reuke wat die huis vul nie.

Ek begin gewoonlik in die middel van November te bak sodat ek vroeg in Desember klaar is. Gemmer, Sjokolade, Grondboontjie, Klapper, Vla, Brosbrood koekies. Die wavrag koekies hou my maklik tot so Juniemaand en dan vul ek aan waar nodig.

Elke jaar is daar ’n nuwe resep of twee of variasie van ’n bestaande resep wat aan die beurt kom.

My kleinkinders bak graag saam koekies en hulle gunsteling is koekies wat uitgedruk word met verskillende vorms – afhangende van die geleentheid. So word kersvorms gebruik vir spesiale Kersfees koekies wat ons dan versier met koninklike versiersel/ glans versiersel in Kersfees kleure met blink balletjies en vermicelli.  Dis gewoonlik ’n morsige storie met versiersel op die vloer, in hulle hare en gesigte en natuurlik gaan baie mond toe ook.

Koekies bak is iets wat ek graag met die kleintjies doen.

Kinders bring groot pret saam met hulle wanneer daar gebak word. Dis eintlik wonderlik om hulle entoesiasme en kreatiwiteit te sien. Die eerste keer dat ’n eier oopgebreek word en die helfte in die mengbak beland – en die ander helfte op die toonbank en vloer. Oumas het meer geduld met die kinders en ook meer tyd. Alhoewel ek ook saam met my kinders gebak het, is dit beslis anders nou as die Ouma. Ek is baie meer ontspanne as Ouma en geniet baktyd met die kinders. Wanneer hulle huis toe gaan, maak ek weer alles skoon – tot volgende keer.

Hierdie jaar het ons begin met glans versiersel waar ons die vorige jare die gewone botter versiering gedoen het. Hulle geniet dit om prentjies te teken op die koekies en aan die kersboom te hang.

Ons skep herinneringe en geniet Kersfees bak en brou en vertel stories terwyl ons saam in die kombuis werskaf.

Leave a Reply/Los 'n boodskap