Treinry is in my bloed

Treinry is in my bloed. My Pa was ’n treindrywer gestasioneer in Port Shepstone, KwaZulu-Natal. Ek het my eerste 5 jaar in ’n spoorweg huis in Fairview terrace no 6 in die sogenaamde Spoorwegkamp by die Loco in Port Shepstone gewoon saam met my ouers en ouer suster.

treinry is in my bloed

Ek kan nog die spoorweghuis goed onthou.

Dit was sorgelose kinderjare. Daar was trappies wat na ’n buitekamer gelei het waar ek en my suster met alles en nog wat gespeel het. Poppe, modderkoekies bak op die trappe en karretjies met stof strate. Ons het loop afstand van die Loco af gebly. My Pa het skofte gewerk as Treindrywer en ons kon hom van vêraf sien aankom. Ons het dan na hom toe gehardloop en sy blik en werk boots gedra.

Die treine en stasie was ons hele wêreld

My Pa was so trots om ’n Treindrywer te wees en was so lief vir die stoomtreine. Daar was vir hom niks lekkerder as om in daardie warm lokomotief te sit met die stoom, rook en roet op sy klere en in sy hare nie. Ek het gedink almal se Pa’s werk by die treinstasie – my ouers se vriende het almal op die Spoorweë gewerk en ons maats was soos ons – die kinders van spoorweg werkers. Die lekkerste lekker was wanneer ons vir Pa op die stasie gewag het en hy die fluit geblaas het soos hy die trein in die stasie ingery het.

Pa het vir ons ’n huis laat bou

My Pa wou net die beste vir sy familie hê en het ’n huis gebou sodat ons sekuriteit het. Ons het die spoorweghuis begin oppak en reggemaak vir die nuwe hoofstuk in ons lewe. Tien dae voordat ons sou intrek is my Pa in ’n motorongeluk oorlede. Hy was op pad terug na die Spoorweg kollege in Durban toe ’n dronk bestuurder op die Sezela brug reg van voor met my Pa gebots het. My Pa was in die kollege om te leer om die nuwe dieseltreine te dryf.

Ons kon steeds treinry

Alhoewel my Pa oorlede is toe ek 5 jaar oud was, was dit nie die einde van treinry nie. Ons het elke jaar vrypas gekry en kon Suid-Afrika deurreis met die trein en hierdie trein vakansies was soos sprokies. Dit was die beste vakansies waarvan ’n kind kon droom. Ons kinders en my Ma het die wonderlikste avonture beleef gewapen met ’n kosmandjie en beddegoed.

Treinry is in my bloed en met hierdie Kos Reise webblad gaan ons juis met ’n denkbeeldige stoomtrein kos avonture beleef. So pak jou kosmandjie en laat die reis begin

Reis verder

  • Maak ’n draai in die Eetsalon vir nog resepte
  • Besoek stories – trein, kos, kombuis en reis stories
  • Besoek ook Amanda Skrywer waar Amanda haar opinie gee oor aktuele sake
  • Teetyd kuiers is ’n kuier rubriek waar ons lekker gesels
  • Die Naguil koerant verskyn maandeliks gratis en is ontspannende leesstof

Leave a Reply/Los 'n boodskap